Inspirasie In Memoriam Boeke Kontak
 
 

 




Awareness Day Dates
Teen Suicide Prevention Week 14th-21st Feb
Bipolar Awareness Day 26th May
Substance Abuse Prevention Day 26th Jun
Mental Health Awareness Month 1st-31st Jul
Panic Awareness Day 10th Jul
World Suicide Prevention Day 10th Sep
World Mental Health Day 10th Oct

Terug na Inligting

HULP IN DIE EERSTE DAE

Jy is nie alleen nie. In Suid-Afrika neem ongeveer 22 mense elke dag hul eie lewe, met 220 wat nie “suksesvol” is in hul poging nie.
Dit is net meer as 8 000 mense per jaar – almal iemand se geliefde man, vrou, of kind – wat nie meer kans sien vir hierdie lewe nie en “suksesvol” ’n einde aan alles maak. Per jaar is daar nog meer as 80 000 mense in Suid-Afrika wat probeer om hul eie lewe te neem, maar “onsuksesvol” is.
Dis mans en vroue, “gesondes” en siekes, mense van alle ouderdomme, alle stande en alle rasse wat hul eie lewe neem. Die rede en aanleiding tot elke selfdood is uniek. Sommige oorsake is vir die agtergelatenes meer duidelik, byvoorbeeld as hulle bewus daarvan was dat die persoon aan depressie gely het; ander bly altyd ’n raaisel. En niemand mag die blaam op jou of enige ander persoon plaas nie 
Maar: niks kan jou voorberei op die trauma wat jy beleef nie.
Dit sal nie vir jou so voel nie, maar daar is tog hulp op verskillende maniere beskikbaar.
Die eerste ruk, veral, wanneer dit voel of die nagmerrie nooit ’n einde sal hê nie, het jy ondersteuning uit verskeie oorde nodig. Moet dit nie versmaai nie, al voel jy ook jy wil niks meer met hierdie wêreld te make hê nie.
’n Geliefde se selfdood moet die mees traumatiese ervaring van enige menslike wese wees. Navorsers stel dit gelyk aan die ervaring van gevangenes in Nazi-konsentrasiekampe.
Jy het hulp nodig, en daar is hulp beskikbaar, in verskillende vorms.

Skok en trauma
Jy is aan die begin van ’n treurproses wat waarskynlik die res van jou lewe sal duur. Jy kan nie verby of rondom die werklikheid kom nie, al wil jy ook hoe.
Jy gaan daagliks, waarskynlik uurliks, indien nie per minuut of sekonde nie, deur verskillende emosies oorval word. Dit gaan later voel of jy nie meer bestaan nie, maar deur emosies gerig word. Jy gaan voel of ’n tsunami van treur en trane jou getref het, en jy willoos spartel, dikwels na aan verdrink. Dan gaan jy dalk weer voel of jy tog kan opkom vir asem, en asof jy in beheer is, terwyl dit, genadiglik, ’n helder oomblik is waarin jy kan asem skep. Dis alles deel van die skok en trauma, en hoe jou liggaam daarop reageer: jou liggaam se manier om deur die eerste dae van ongeloof en skok te kom.
Jou lewe lê dalk nou uitsigloos voor jou. Maar: gee jouself tyd. Gee tyd tyd. Dat dit veel makliker gesê is as gedaan, gaan jy baie gou agterkom.
Maar juis daarom: wees goed vir jouself. Eet gereeld, en as jy nie kan nie, sorg dat jy minstens iets eet wat baie voedsaam is, soos neute. Drink ook vitamien-aanvullings.
Die onwerklikheid van die werklikheid gaan jou gereeld oorval. Kry iemand om mee te praat, of kry vir jou ’n dagboek sodat jy jou gedagtes en emosies daarin kan uitstort. Skryf is van die beste terapie wat daar is.
Daar is ook ’n aantal boeke beskikbaar wat vir jou sal help om deur die verskillende fases van die treurproses te “werk” (sien ook die laaste hoofstuk met ’n lys van nuttige boeke), maar wees gewaarsku: niks is maklik nie. Daar is nie ’n eenvoudige, stap-vir-stap riglyn om met treur te kan omgaan nie. Jy is nou deel van ’n “nuwe lewe”, en jy moet vir jouself tyd gee om ’n nuwe identiteit in hierdie nuwe lewe te vind.
Jy gaan baie verskillende emosies en angste, ook fisieke pyn ervaar. Dis byvoorbeeld natuurlik dat jou liggaam gaan rebelleer deur iewers ’n pyn te openbaar. Dis natuurlik, en heel waarskynlik ’n gevolg van ’n spasma weens spanning.
Jy kan ook dalk die heel tyd bewe, ’n gevoel asof jy die heel tyd koud kry. Dis weer jou liggaam se reaksie op die verskriklike skok en trauma.
Indien jy nie kan slaap nie, vra jou dokter of apteker vir hulp – daar is natuurlike slaapmiddels beskikbaar wat nie gewoontevormend is nie. Jy kan later ook gaan vir byvoorbeeld meditasie- of jogaklasse wat jou gaan help om te ontspan en beter te slaap.
Weens die samelewing se onkunde oor selfdood, gaan jy ook woede, of dalk skande, ervaar.
Wees bedag op die emosies, en kry hulp om dit te verwerk. Skok en trauma gaan nog vir ’n hele ruk deel van jou lewe wees, waarna treur en jammer oor jou verlies gaan oorneem. Jy kan ook van verskillende fases “terugbeweeg” na fases wat jy gedink het jy reeds deurgewerk het. Dis alles deel van die nuwe uitdagings wat elke dag aan jou gestel gaan word. Treur ontwikkel nie in ’n lyn nie, jy gaan baie “terugvalle” ervaar. Weer: gee jouself tyd en wees goed vir jouself.

Die polisie
Die polisie moet by elke selfdoodgeval die saak ondersoek om te verseker dat geen misdaad plaasgevind het nie. Die ondersoekbeamptes sal probeer om alle belangrike inligting van verskeie mense in te samel. Hulle sal moontlik ook die volgende dag of later terugkom om verdere verklarings af te neem. Gee jou samewerking, dit is noodsaaklik dat hulle ook hul werk moet kan doen, al is dit vir jou hoe traumaties.
Die polisie sal die saak aan die regspleging oorhandig, wat finaal sal besluit of ’n misdaad plaasgevind het. Dit neem ’n sekere tyd.
Die volgende sal min of meer gebeur:

  • Naasbestaandes sal, gewoonlik tuis, gevra word om ’n verklaring af te lê oor wat gebeur het/wat hulle beleef het/wat hulle weet van die persoon se poging tot selfdood.
  • Items soos ’n laaste brief, of ’n dagboek, sal deur die polisie as bewysmiddels saamgeneem word. Gee ook wat dit betref jou samewerking. Jy sal so gou moontlik ’n fotostaat van die brief kry indien ’n brief nagelaat is.
  • Indien die liggaam op ’n plek is waar jy toegang het daartoe, mag jy dit nie aanraak alvorens die polisie daar was en hul ondersoek gedoen het nie.
  • Die liggaam sal na die polisie se naaste lykshuis geneem word vir ’n nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te kan bepaal.
  • Familie of vriende moet die liggaam by die polisie se lykhuis uitken nadat die nadoodse ondersoek gedoen is. Indien jy dit nie wil doen nie, vra iemand om dit namens jou te doen.
  • Sodra die uitkenning gedoen is, sal die polisie verlof gee dat die liggaam na ’n begrafnisondernemer vervoer word. Reël vooraf met die begrafnisondernemer, wat die liggaam sal vervoer sodra die polisie vir hulle die nodige verlof gee.
  • By die begranisondernemer sal jy vrye toegang tot die liggaam kry.
  • Klere en ander persoonlike besittings sal aan jou teruggegee word sodra die polisie en regspleging sy ondersoek afgehandel het en die saak gesluit is.

Steun en hulp
Hierdie onbeskryflik moeilike tyd in jou lewe moet jy en julle nie alleen probeer oor- en deurleef nie. Daar is hulp in verskillende vorms beskikbaar.
Die polisie sal waarskynlik onmiddellik ’n berader aan julle beskikbaar stel indien julle in ’n omgewing is waar sulke dienste beskikbaar is.  
Andersins moet jy jou dokter vra vir die nodige mediese en sielkundige hulp en verwysings.
Ook familie, vriende en bure se hulp moet jy aanvaar – almal wil graag help, al weet hulle baie keer nie hoe nie. Jy kan dus gerus sê: dit sal gaaf wees as jy vir môreaand ’n bredie of sop kan bring, ons sal dit waardeer.
Indien iemand ook net gewoon by jou en julle wil bly om te help telefone beantwoord, en om met die mense wat kom en gaan, te help, aanvaar ook dit. Al wil jy dalk net van alles en almal wegvlug, moet sekere dinge gedoen word. Gebruik daarvoor die hulp wat aangebied word.
Kyk ook dat jong kinders en jeugdiges die nodige hulp en ondersteuning kry.
Dit help baie indien dit mense is wat dieselfde oorleef en deurleef het, omdat hulle presies weet wat jy deurmaak.
Gaan ook so gou soos wat jy kan na treurberadingseminare of groepe soos the Compassionate Friends waar daar mense sal wees wat presies dieselfde ervaring as jy gehad het en van wie jy die nodige hulp en hoop kan kry.

Die begrafnis/gedenkdiens/dankdiens/verassing
Wanneer jou geliefde se liggaam deur die polisie vrygestel word, sal dit na die begrafnisondernemer geneem word. Volgens jou geloofsoortuigings en kulturele gebruike kan jy dan die begrafnis of verassing reël, ook soos dit jou geliefde se wens was. Indien dit gebruik is dat die liggaam ook vir besigtiging tuis gehou word, is dit jou besluit of jy dit so wil doen.
Niks is ’n plig nie: dis jou besluit hoe jy van jou geliefde wil afskeid neem.
Die begrafnisondernemer sal ’n professionele diens verskaf, en indien jy begrafnisdekking het, sal dié dekking waarskynlik alle koste betaal, afhangend van jou polis.
Die begrafnisondernemer sal ook vir jou die sterfsertifikaat gee indien jy dit nie by die polisie gekry het nie. Jy moet ook die persoon se ID-boekie na die polisie neem, saam met die sterfsertifikaat, sodat die polisie dit kan stempel om aan te dui dat die persoon oorlede is.
Volgens jou keuse sal die begrafnisondernemer ook vir jou vra om ’n kis uit te soek. Indien jou geliefde veras word, kan jy ook ’n klein houtkissie kies waarin die as later aan jou oorhandig sal word.
Jy kan by die begrafnisondernemer jou geliefde sien soveel soos wat jy wil. Die ondernemer sal ook vra watter klere jy wil bring waarin jou geliefde begrawe of veras moet word. Jy kan ook byvoorbeeld soveel blomme rondom jou geliefde se gesig in die kis pak soos jy wil, of ander items daar sit as laaste blyk van liefde.
Baie mense het behoefte om afskeid te neem, en jy moet besluit hoeveel mense jy wil toelaat – en daarvolgens ook die begrafnisondernemer inlig van wie jou geliefde mag sien en wie nie, aangesien jy nie die heeltyd daar kan wees nie.
Indien jy ’n godsdienstige begrafnisdiens verlang, sal jy saam met jou predikant of ander geestelike die diens se orde bepaal en besluit op die gesange en boodskappe.
Onthou: jy kan dit bepaal, volgens jou behoefte. Moenie dat die geestelike haar of sy mening of oordeel op jou afdwing nie. Sommige kerkgenootskappe hou byvoorbeeld nie van ’n huldeblyk nie omdat dit “ophemeling” van die gestorwene is en die fokus op die geloof moet wees. Indien jy so ’n huldeblyk wil lewer of wil laat lewer, het jy die volste reg en moet jy dit ook so oordra aan die predikant.
Indien jy dalk ook iemand anders benewens die predikant ’n sekere deel van die diens wil laat waarneem, is ook dit jou reg, en moet die predikant se ego nie verhinder dat dit gebeur nie.
Dis ook jou besluit of en hoe die oorsaak van dood in die gedenkdiens aangespreek sal word.
Jy kan dat die begrafnisondernemer die begrafnisbrief of -program druk, of jy kan dit self doen. Indien dit die begrafnisondernemer is, maak net seker dat jy dit proeflees, want hulle het nie taaldienste nie.
Indien jy jou geliefde laat veras, sal die begrafnisondernemer ook daardie reëlings tref. Jy kan by die krematorium wees vir die verassing, of nie – dit hang van jou af. Indien jy reeds ’n gedenkdiens gehou het, sal die verassing dan byvoorbeeld privaat afgehandel word met net diegene wat jy daar wil hê vir die finale afskeid.

Kinders en jeugdiges
Moenie daarvan wegskram om oor selfdood met kinders en jeugdiges te praat nie. Die oorsaak van dood behoort nie verswyg te word nie – net soos wat dood deur byvoorbeeld kanker of ’n hartaanval, of Vigs, nie verswyg behoort te word nie. Die persoon kon nie verder lewe nie, soos wat iemand met terminale kanker, of wat aan komplikasie as gevolg van Vigs-verwante siektes sterf, ook nie verder kon lewe nie.
Gebruik die geleentheid om meer openheid rondom selfdood te kweek, en beantwoord alle vrae volgens die kind se ouderdom en begrip. Kinders wil weet wat in hul wêreld gebeur het, en wat die oorsaak is van die geweldige omverwerping van hul lewe.
As ’n ouer of ’n broer of suster haar of sy eie lewe geneem het, moet die kind so ver as moontlik ingelig word. Kinders beskerm hulself teen inligting wat hulle nie op daardie stadium nodig het nie deur “nie te hoor nie” of te gaan speel.
Jeugdiges sal dalk eerder met tydgenote wil praat, en daarom sal dit goed wees indien jy kan reël dat hulle met jongmense praat wat dieselfde ervaring gehad het.
Indien jy jou dag so kan inrig dat hul lewens weer min of meer tot normaal kan terugkeer, en hulle weer die ou roetine kan hê, sal dit vir hulle al ’n groot hulp wees tot “normalisering”, hoewel dit nooit weer normaal sal wees nie. Dit sal egter vir hulle ’n gevoel van sekuriteit gee. Jy kan ook hierin die steun van familie en vriende vra, wat ook graag wil help sodat jy en jou kring jul trauma kan verwerk.
Ook kinders en jeugdiges moet genoeg tyd gegee word om hul trauma te verwerk en genoeg treurgeleenthede te kry. Onverwerkte treur kan later manifesteer in fisieke of sielkundige siektes. Indien daar nie ’n steungroep vir kinders of jeugdiges in jou omgewing is nie, kan jy en ander wat dieselfde ervaring moet verwerk, dalk daaraan dink om so iets te begin – selfs net ’n speelgroepie vir klein kinders, wat moontlik ’n band kan vorm vir hul latere lewe en die vrae wat hulle later sal vra.

Gee tyd tyd
Ten slotte: jy begin ’n reis wat jy nie voorsien het nie en waarop jy jou nie kon voorberei nie.
Die tyd heel nie, maar dit kan help om jou ondraaglike las meer draaglik te maak. Mense, jou geloofsoortuigings, boeke, berading, professionele hulp – alle ander manier en weë wat jou kan help om saam met jou verlies te lewe, moet jy gebruik.
Daar word gesê jy moet tyd tyd gee.
Dis die begin van ’n nuwe tyd in jou lewe. Gee tyd daarom tyd om ook hierdeur te groei.
Jy kan dalk môre vir iemand wat hierdie pad begin stap, wat jy nou reeds vir ’n rukkie deurgeworstel het, help.
En dieselfde boodskap gee: gee tyd tyd. Dis die boodskap van hoop, dat daar tog ’n nuwe dag aanbreek, ondanks alles. Hoop moet seëvier.

– Lizette Rabe Hörstmann

Terug na bo