Inligting Inspirasie In Memoriam Boeke Kontak
 
 

 


As jy hier lees, beteken dit dat jy waarskynlik ’n oorlewende is, en dat jy op jou lewensreis soek na antwoorde op vrae wat jy nie eens kan formuleer nie. Ek hoop hierdie webwerf is vir jou ’n lafenis op jou reis, en dat jy dikwels by hierdie stasie op die roete na verstaan, en na begrip, sal aandoen.

As een van jou naastes haar of sy eie lewe geneem het, is jy ook van jou lewe beroof. Hoe kan jy lewe as jou geliefde nie verder kon lewe nie? Hoe kon jou liefde en jou hulp nie genoeg gewees het om jou geliefde van sy of haar lot te red nie? Hoe kon medikasie en behandeling nie genoeg gewees het om jou geliefde te red van hierdie verskriklike siekte nie? Hoe verstaan ons wat agterbly die kanker van die siel, depressie, wat jou geliefde se wil om te lewe so weggevreet het dat niks meer vir haar of hom die moeite werd was nie?

Hier kan jy hopelik tot rus kom, en ’n klein bietjie troos met jou saamneem. Of jy kan selfs vir ander wat ná jou op hierdie verskriklike pad moet stap, troos agterlaat.

Selfdood is een van die wreedste oorsake van dood. Ek kies die woord selfdood bo die Afrikaanse selfmoord omdat ons geliefdes swaar genoeg gekry het – waarom moet ’n samelewing en ’n taal hulle verder oordeel met die veroordelende woord “moord”? Dis ’n argaïese begrip, en ons moet Afrikaans bevry van die term. Ons geliefdes is bevry van hul verskriklike lot – kom ons bevry hulle van ’n term wat tot ’n vorige era behoort en kriminaliteit impliseer.

Hierdie webwerf het hopelik vir jou hulp in verskillende vorms. Neem die muis oor die etikette bo-aan die blad: daar’s inspirasie in die vorm van aanhalings, daar’s inligting oor depressie, selfdood en hulpsentra, ’n lys van boeke wat moontlik kan help om vir jou antwoorde te gee...

Jy kan self ook ’n bydrae maak deur die lyste aan te vul deur vir my die inligting na my onderstaande adres te stuur sodat die webwerf daarmee opgedateer kan word. Daar is ook ’n afdeling waar jy jou herinnering aan jou geliefde kan laat voortleef deur oor haar of hom te skryf, en ook ’n foto te stuur. Daar is ook ’n treurmuur, waar jou geliefde se geboorte- en sterfdag aangebring kan word.

Wat jou behoefte ook is, ons hoop hierdie webwerf is vir jou ’n lafenis vir jou siel, ’n plek waar jy kan vertoef wanneer jou verlies, jou verdriet, jou verwyt en jou verlange vir jou te veel raak.

Ons kan net oorleef indien ons saamstaan en saam treur – en ons kan dit ook saam doen, hier in die kuberruim.

Lizette Rabe Hörstmann
info@survivorsofsuicide.org.za